Laerskool Kruinpark

Kultuur

Kultuur

Kultuur is dit wat jy onthou, nadat jy alles vergeet het wat jy doelbewus geleer het. (H.A.T)

Laerskool Kruinpark streef daana om, deur middel van die Kultuuraktiwiteite van die skool, balans in ons leerders se lewens te bring en ook hulle ingesteldheid teenoor die lewe positief te verander.

Dit is Laerskool Kruinpark se doel om die leerders toe te rus met kennis en vaardighede wat hulle vir die res van hulle lewens kan gebruik en toepas, maar die heel belangrikste van alles – Kruinpark Kultuur maak Kindwees lekker!

Kruinpark bied ‘n verskeidenheid Kultuuraktiwiteite. Daar is iets vir elke leerder om te doen. Kruinpark Kultuur maak dit moontlik vir enige leerder om iets te doen, daardie leerder moet net betrokke raak!


Junior Koor

Die juniorkoor bestaan uit leerders van graad een tot drie. Die koor spog met uiters goeie koordissipline en ‘n pragtige, soet koorklank.

Kruinpark se juniorkoor was reeds wenners van die Sasol Hoëveldrif Eisteddfod en is ook trots op hul prestasies in Sing in Harmonie 2018. Die juniorkoor was streekswenners van hierdie gesogte Kyk Net kompetisie en hulle het ook tydens die nasionale Sing in Harmonie finaal weggestap as die wenners van die kykerskeuse!


Revue

Kruinpark spog met ‘n staande revuegroep, bestaande uit graad vier tot sewe leerders. Hierdie talentvolle leerders moet nie net goed kan sing nie, maar hulle moet flink op hulle voete wees met ingewikkelde danspassies. Die groep se kostuums en bykomstighede verleen kleur aan elke vertoning. 

Die Revuegroep was wenners van die Sasol Hoëveldrif Eisteddfod sedert die ontstaan van die Eisteddfod. Hier leef lede hulle passie vir musiek en beweging ten volle uit.


Kitaargroep

Laerskool Kruinpark se Kultuur-uniekheid kom na vore in die Kitaargroep. Hier kry leerders die geleentheid om hulle instrumentvaardighede ten toon te stel.

Dit is ‘n selfbegeleide kitaar ensemble. Deur ‘n streng keuringsproses deur te gaan, kan leerders van enige graad, groot of klein, deel word van hierdie gesogte groepie. Die kitaargroep is altyd op gereedheisgrondslag en kan vir minstens vyftien minute aanmekaar ‘n gehoor vermaak met ‘n wye verskeidenheid liedjies, van toeka tot nou! Die Kitaargroep neem ook deel aan elke Sasol Hoëveldrif Eisteddfod en stap elke keer met die louere weg.


Landsdiens

Die Oppikruin Landsdiensklub bied die geleentheid vir elke leerder van graad R tot graad sewe om deel te word van ‘n Kultuuraktiwiteit by Laerskool Kruinpark. Die klub verdeel in ‘n junior en senior groep en kom twee-weekliks bymekaar. Hier word die liefde vir God, liefde vir die Medemens en liefde vir die Natuur ten volle uitgeleef.

Kruinpark spog met die grootste Landsdiensklub in Mpumalanga en het ook al junior Springbokke en Nasionale leiers opgelewer!

Dit is nie net die kinders wat so mooi presteer nie, maar van Kruinpark se personeel het ook al hulle Springbokkleure verwerf. Kruinpark se personeel is gereeld deel van die Landsdiens Nasionale Kampe – ‘n baie groot eer wat net uitgesoekte groepie personeellede in die land te beurt val.


Redenaars

As daar nou een plek is waar Kruinpark se kinders maar mag kekkel dat dit klap, is dit by die Redenaars!

Elke leerder van Laerskool Kruinpark kry jaarliks die geleentheid om deel te neem aan die Redenaars uitdunne, waarna die Hoëveldgroep, ATKV en Radikale Redenaarsspanne aangekondig word.

Kruinpark neem in Afrikaans eerste- en tweedetaal en ook in Engels aan redenaars deel.

Hier leer ons Kruinparkkinders om hulle sê met selfvertroue te sê en die gehoor te oortuig van hulle standpunt.

Hulle leer ook hoe om navorsing te doen en hulle eie toesprake te skryf. Kruinpark het al redenaars gehad wat na die ATKV – Landsfinaal en die Radikale Redenaars Nasionale finaal deurgedring het.

Kruinpark het ook Radikale Redenaars en Leesfees -wenners op hulle kerfstok. 

By die Kruinpark Redenaars leer ons kinders soveel waardevolle kommunikasievaardighede aan en ontwikkel hulle kosbare selfvertroue.


Eisteddfod

Kruinpark bied leerders die geleentheid om aan ‘n wye verskeidenheid kunsvorme deel te neem tydens die Sasol Hoëveldrif Eisteddfod, naamlik Skryfkuns, Beeldende Kuns, Dans, Spraak en Drama, Speech and Drama, Vokaal en Instrumentaal.

Kruinpark se spreekkore, kore, kleingroepe en individue het hulle merk behoorlik gemaak op die planke en Kruinpark spog met ‘n itemwenners, afdelingswenners en ook algehele wenners. Die gesogte Victor en Victrix Artium pryse pronk ook op Kruinpark se naam.

Die Sasol Hoëveldrif Eisteddfod vind tweejaarliks plaas.


Mnr en Mej Kruinpark

Kruinpark is die enigste laerskool in die omgewing wat hierdie geleentheid vir sy leerders bied.

Graad sewe leerders het die voorref om aan die MMKP kompetisie deel te neem. Enige graad sewe leerling kan inskryf. Vaardighede soos hoe om jou woord te doen, op jou voete te dink, te modelleer en dans word ontwikkel tydens die MMKP kompetisie. Na afloop van die onderhoude, word finaliste gekies, wat dan baie hard oefen om al hulle passies gereed te hê vir die groot finaal en kroningsgeleentheid.

Beoordelaars bestaan uit ‘n paneel van Kruinpark onderwysers, plaaslike hoërskole se onderwysers en lede van die Secunda gemeenskap. Pragtige pryse word gewen deur meneer en mejuffrou Kruinpark, die eerste en tweede prins en prinses, meneer en mejuffrou fotogenies en meneer en mejuffrou persoonlikheid. Elke jaar se tema is uniek en relevant. MMKP deelnemers geniet elke oomblik en al kan almal nie wen nie, ontluik elkeen daardie aand in ‘n pragtige prinses of aantreklike prins.


Trompoppies

Die Trompoppies is ‘n nuwe toevoeging tot die Kruinpark Kultuur en het al die afgelope twee jaar, letterlik diep spore getrap waar hulle opgetree het. Dogters van graad een tot graad sewe neem deel in drie verskillende spanne, naamlik die graad een en twee Poppelinas, die graad drie en vier Skitterpoppies en die graad vyf tot sewe senior poppies.

Elke dogter in die skool kan jaarliks uitdun vir hierdie prestige geleentheid. Die dogters oefen baie hard om elke passie so flink en fraai soos net ‘n Kruinparkdogter dit kan doen, uit te voer.


Spelling Bee

Kruinpark se besige bytjies maak nog tyd om aan hulle woordeskat en spelling te werk. ‘n Kultuur van goeie taalgebruik begin by goeie spelling. Kruinpark het inisiatief geneem en ‘n interne en eksterne Spelling Bee kompetisie begin. Elke graad het na afloop van uitdunne twee deelnemers wat dit moet uitspook vir die wenplek. Die woorde word hardop, in Engels gespel.

Tydens die Spelling Bee kompetisies, rek die gehoor se oë behoorlik as hulle die vreemde en onbekende woorde hoor wat ons kinders moet spel, maar ons Kruinpark Spelling Bee bytjies, spel asof hulle heuning om die mond het. 

Tydens die interskole byeenkoms, kom Kruinpark gereeld bo uit!


Spelfees / Spelathon

Kruinpark se leerders neem nie net aan die Engelse Spelling Bee deel nie, maar het ook ‘n Spelfees, wat op dieselfde prinsiep as die Spelling Bee werk. Die Spelfees is ons interne, Afrikaanse spelkompetisie. Leerders wat daar hulle staal wys, gaan neem aan die ATKV Spelathon deel. 

Kruinpark is baie trots om te sê dat ons Eerste taal en Tweede taal deelnemers gehad het, wat hulle plek oopgespel het na die ATKV Spelathon Landsfinaal. Afrikaans, jou lekker ding!


Skoolkoerant

Die Kruinbasuin skoolkoerant deel die nuutste nuus en interessanthede wat by Kruinpark gebeur, met die gemeenskap.

Berigte word geskryf en inligting ingesamel deur die Kruinpark koerantredaksie, wat slegs uit Kruinparkleerders bestaan.

Enige voornemende Kruinpark joernalis kan aansoek doen om deel van die Kruinbasuin redaksie te wees. Wanneer ander lekker na sepies kyk, skryf die redaksie oulike, vars berigte, wat in ‘n pragtige kleurvolle koerant geplaas word.

Daar is iets vir almal se smaak in die Kruinbasuin, met genoeg grappies en kwinkslae om almal te vermaak. Een ding is seker, die Kruinbasuin is nooit ou nuus nie!


Bybelvasvrae

Asof SW en NW nie genoeg leerwerk is nie, is daar nog sowaar Kruinparkers wat hulle kennis van die Bybel wil uitbrei!

Die Bybelvasvrae verg baie leerwerk en die deelnemers moet regtig flink dink om al die antwoorde binne die gegewe tyd neer te skryf.

Hierdie spesiale groepie kinders oefen naweke en vakansies, maar word verryk met wonderlike kennis en begrip van die Bybel. Die hoogtepunt van die Bybelvasvrae jaarprogram is die deelname aan die Rapportryerskompetisie. Dit is nie maklik om te kwalifiseer nie, maar Kruinpark is daar!


Coolclub

Die “COOL” van Coolklub, staan vir Christus Ons Oorwinnaar Leef.

Daar is junior en senior Coolklub byeenkomste. Leerders wat ‘n behoefte het om deel te wees van hierdie klub, kom een maal ‘n week, tydens pouses bymekaar vir aktiwiteite, Bybelstudie en Lofprysing. Die Coolklub is heeltemal vrywillig. Kringleiers staan ook hulle groepies by met van die aktiwiteite. Die juniortjies word meestal vermaak deur Babbel en Bekkie, die pratende poppe.


Gebedsgroep

Almal het een of ander tyd die behoefte dat iemand vir hulle bid. Dit is dan ook die hoofsaaklike doel van die gebedsgroep. Daar is gebedsgroepleiertjies vir elke graad ingedeel en hierdie leiertjies bid saam met - en ook vir hulle groepies.

Die gebedsgroep kom een maal ‘n week, tydens pouse bymekaar en is heeltemal vrywillig. Die gebedsgroep reik ook uit na die gemeenskap met besoeke aan Davieshof, Marietjieskool en nog vele meer. 

Daar gaan bid ons kinders vir mense wat die behoefte het en spandeer tyd met hulle. Die gebedsgroep is Jesusliefde in aksie!